spar womensday 2017 spar gansbaai spar cancervive spar vroueoggend 2017

Spar Overberg Vrouedag 2017

by admin / October 25, 2017 / in Proudly Gansbaai / 0 comments

Saterdag 14 Oktober 2017. ‘n Oggend wat min dames van Gansbaai vinnig sal vergeet. Die Spar Overberg Vrouedag. 
Dit het begin met n ligte pienk glasie vonkelwyn met ‘n wolkie spookasem en op die randjie van jou glas wat geborg was deur Bon Courage. Van die eerste oomblik was dit glimlaggies, drukkies, geselsies en hoe noem ons dit? “selfies”! Vinnig na almal mekaar gegroet het en in die bootjiefoto-hoekie foto’s geneem het, het ons na die pragtige saal toe beweeg. Die uitdrukkings op die dames se gesigte toe hulle die saal binne tree – ONBESKRYFLIK! ‘n Oseaan van wit tafels, rye en rye kristal blou glase, kerse hoog en laag. Blou ankertjies wat orals hang. Afgewerk met die mooiste strikkies. ‘n Groot sak met wonderlike Spar-produkte in het elke dame se dag gemaak. Die tafel-dekor was so oorspronklik en vars, afgerond met die mooiste blomme. Die dak behang met rye en rye vlaggies. 
Tracey Lange van Heart 104.9 fm het haar goed van haar taak gekwyt. Sy het met haar pragtige persoonlikheid die gehoor vreeslik vermaak. Haar stralende lag was soos ‘n veldbrand. 
Sy het eerste vir Morkel van Niekerk die verhoog begin. Wat ‘n besonderse man is hy nie? Hy het die gehoor doodstil gehad toe hy sy vrou bedank vir wat sy vir die gemeenskap doen. Toe hy vir haar sê dat haar Spar-oggende elke jaar al hoe mooier raak nes sy, het amper 300 dames gelyk ge -Aaaaaa!!!!
Hy het so mooi verduidelik dat die wêreld ‘n beter plek kan wees as ons elkeen net ons vierkant per meter kan verbeter vir die persoon langs ons. 
Andriette Norman het die dames die hele oggend vermaak met haar ongelooflike stem. Teen hoofgereg was sy saam met die gehoor aan die dans. 
Toe breek die oomblik aan wat die gehoor tot n stilstand bring. Jy kon n naald hoor val. Jana du Plessis die gasspreker vir die oggend het minder as n week gelede die styd teen kanker verloor. Haar beste vriendin Anri Powell het haar storie kom vertel. Jana het gelewe met n vol hart en het dit haar lewensmissie gemaak om aan die wêreld te verkondig en te laat besef dat “Aarde tyd is Genade tyd.” Almal se ogies was bloedrooi en gelukkig het die geskenksakkie snesies bevat. Elke tafel het n spesiale kersie aangesteek en vir haar stiltetyd gehou. 

Dit was ‘n hartroerende oggend saam met onvergeetlike mense. 
In die gehoor het daar talle dames – oud en jonk – opgestaan wat die stryd teen kanker oorwin het en saam met Chrizulene Van Niekerk die tjek oorhandig aan die Cancervive fonds vir R20 000.
Dit was n uitsonderlike oggend en het die hele gehoor opgestaan en vir die ongelooflike sterk dames hande geklap. Elke sekonde was vol van emosie. 
Chrizulene word orals op Twitter en Facebook bedank vir haar omgee hart deur al die dames in haar gemeenskap. Sy is voorwaar n yster vrou. 
Spar het besluit om die vrouedag te begin deur vir die gemeenskap terug te gee, Ons almal word een of ander tyd in ons lewe dalk geraak deur iemand wat kanker het. Vir die wat daarmee saam leef maak mense soos Chrizulene en Morkel Van Niekerk van Overberg Spar n verskil. Elke bietjie help. Elke sekonde tel, Want aarde tyd, is genade tyd. 

Die Spar Overberg span bedank elke persoon wat deel was van hierdie besondere oggend. Elkeen wat n kaartjie gekoop het was deel van hierdie ondersteuning. Hou die plaaslike koerante dop vir volgende jaar se Vroue oggend wat nog groter en beter gaan wees as ooit van te vore. Kaartjies sal volgende jaar teen R400 beskikbaar gestel word en daar sal slegs 350 sitplekkies wees. Die oggend sal plaasvind by ‘n unieke nuwe venue, maar tot kaartjies beskikbaar gestel word bly dit vir eers ‘n verrassing.
Hoop om julle almal volgende jaar daar te sien!

 

 

Leave a Comment!

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Loading